Cover

Voorwoord


Daar is seker min ander onderwerpe wat die aandag van die Kerk van Jesus Christus so intens besig gehou het as juis die doop nie. Hare word gekloof oor grootdoop, kinderdoop, onderdompeling, besprinkeling, begieting, drie keer indompeling of een keer. Kerke het al geskeur rondom hierdie kwessies. Welmenende Christene was en is dikwels die slagoffer van of die oorbeklemtoning of die onderbeklemtoning van die sakrament. Ander kere is hierdie mense slagoffers van die verdraaiing van die waarheid rondom die doop.

Terwyl daar letterlik duisende boeke en werke van formaat al die lig gesien het oor die sakrament van die doop, is die doel van hierdie werkie nie om toe te tree tot enige debat rondom die doop nie. Verder is dit ook nie die bedoeling om nog ‘n siening die lig te laat sien nie.

Die werkie is die resultaat van ‘n eie soeke na die sin van doop en die praktiese uitwerking daarvan in die lewe van lidmate en in die eerste plek myself. Dit is hoe die sakrament vir my persoonlik lewe en hoe ek dit deur die jare aan lidmate oorgedra het.

Die werkie is in werklikheid ‘n transkripsie van ‘n preek wat gelewer is tydens ‘n doopplegtigheid in die Maranata Gemeente van die Christelike Gereformeerde Kerk in Durban. My bede is dat dit van betekenis sal wees vir elke leser en dat die heerlikheid van die sakrament vir elkeen wat hierdie werkie opneem, ‘n werklikheid sal word.

Prof. Johan Reiners
Hyupsung Universiteit, Suid Korea
2011

Doop, die Seën en die Seël van die Verbond: Inleiding


Uit die Skrif is dit duidelik dat Jesus twee sakramente in Sy Kerk ingestel het nl. die nagmaal en die doop.

Onmiddelik moet ons vra: wat is ‘n sakrament? Onthou dat die Here twee genademiddele aan Sy kerk geskenk het wat as weë moet dien in Sy meedeling van heil aan die mens. Hierdie twee genademiddele is Sy Woord en sakramente. Die Woord word aan die mens verkondig en is dus hoorbaar, terwyl sakramente eerder sigbare en tasbare vorme van die Heilswoord is. Die verkondigde Woord werk geloof in die hart van die mens en die sakramente versterk hierdie geloof. Die Woord as genademiddel kan sonder die sakramente bestaan en funksioneer, terwyl die sakramente nie sonder die verkondigde Woord kan bestaan of funksioneer nie. Die rede hiervoor is dat die sakramente bedoel is om die Woord toe te lig en die beloftes daarvan te bevestig - nie asof die Woord onduidelik of ontoereikend is nie. Dit word gedoen in belang van die mens om sodoende beter te verstaan en sy geloof te versterk in die genadebeloftes en handelinge van God.

Doop en nagmaal het dus ten doel om sigbaar-verduidelikend na die heilswerk van Christus te wys. Die Heidelbergse Kategismus, vr. 66 verwys hierna. Sakramente is dus sigbare uiterlike voorstellinge van dit wat God innerlik deur Sy genade in die hart
werk.

Eenvoudig gestel: God het dikwels deur die geskiedenis van visuele middele gebruik gemaak wanneer Hy waarhede oor Homself en Sy werkinge aan die mens wou duidelik maak. Ek dink daaraan as God se prentjieboek lesse. Dink maar aan die noukeurige ontwerp en aandag wat God gee aan die tabernakel in die Ou Testament. Dink aan die visuele en tasbare waarde van die offers en feesdae uit die Bybelse tye. Toe mense nie die geskrewe Woord gehad het nie, het God dikwels sterk visuele materiaal gebruik om tot die volk te spreek. In ‘n sekere mate gebruik God in ons dag sakramente om met ons te spreek en ons daardeur te versterk, te vermaan en te bemoedig. Die doop is seker een van die mees tasbare maniere waarop God die ewige waarheid van Sy verbond aan ons wil tuisbring.

Dit is so dat daar rondom die sakrament van die doop verdeeldheid bestaan in die kerk van die Here. Hierdie onderwerp het vele teoloë na die pen laat gryp om daaroor te skryf. Soos reeds genoem, het standpunte oor die doop die gevolg gehad dat groot skeuringe plaasgevind het in kerke. Tot vandag toe nog is die doop ‘n hoogs emosionele saak by vele. Standpunte oor die doop wissel van die wat glo dat babas gedoop moet word; ander glo weer dat slegs bekeerde volwassenes gedoop mag word. Die tragiese gevolg is dat beide groepe dikwels met ywer die ander se standpunte beveg en veroordeel. Tussen die twee pole is daar weer die wat glo dat doop red. Sou ‘n kind volgens die mening sonder die doop sterf, sou hy verlore wees. Ander glo weer dat ‘n persoon nooit die hemel sal haal, sonder dat sy redding nie deur die onderdompelingsdoop as volwassene verseël is nie. Dan is daar diegene wat met mag en krag hul standpunt t.o.v. onderdompeling of besprinkeling verdedig. Die vennyn en spot waarmee dit dikwels gepaard gaan, maak die doop debat meer emosioneel en tragies. O ja, en dan is daar nog diegene wat wonder of ‘n dopeling een of drie keer onder die water moet gaan voordat hy/sy as gedoop gereken kan word. Ook hulle wat verkondig dat ‘n mens eers behoorlik gedoop is as hy slegs in die naam van Jesus gedoop is terwyl ander weer verkondig dat doop geld alleen indien die persoon in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoop is. In die praktyk is al gevind dat mense op vyf verskillende maniere gedoop is. Die verwarring in die mense se lewens is onbeskryflik, om nie van geestelike skade te praat nie.

Die tragiek van die vele standpunte en opinies oor die doop is primer daaraan te wyte dat daar ‘n oorbeklemtoning of onderbeklemtoning van die doop is. Ook omdat die grondslag van die doop misverstaan word. Die verdere tragiek van hierdie mengelmoes van standpunte is dat baie mense wat hulself as deskundiges op die gebied van die doop sien en hulle standpunte met ywer en passie verkondig, dikwels meer belang daarin stel om iemand by die doopwater te kry as om ‘n mens by ‘n lewende verhouding met Jesus Christus te kry.

Onthou die volgende: baie mense struikel oor die doop omdat hulle die woordjie ‘doop’ altyd aan water koppel. Dit terwyl die Skrif van ten minste sewe soorte dope praat waarvan vele hoegenaamd niks met water te doen het nie. Dus, nie oral waar ons die woord of begrip ‘doop’ lees, het dit met die sakrament of met water te doen nie.

Die ander uiters belangrike beginsel wat ons nie mag vergeet nie, is dat doop nie ‘n mens uit of in die hemel bring of hou nie. ‘n Ongedoopte sal nie uit die hemel geweer word weens die feit dat hy nie gedoop is nie, maar wel weens die feit dat hy ongered is. So ook sal ‘n gedoopte sal die ewige lewe mis indien hy ongered sou sterf. Wedergeboorte bly steeds ‘n voorwaarde tot die koninkryk van God. In die hemel sal daar vele gedooptes en ongedooptes wees, so ook in die hel.

In hierdie werkie kyk ons na die doop uit veral die genadeverbond wat God met die mens kom sluit het.

1. Die betekenis van die genadeverbond


Die Hebreeuse woord vir verbond is ‘berith’. Dit is gebruik wanneer daar ‘n vaste ooreenkoms tussen twee persone gesluit is. In vandag se omgangstaal sou dit na kontraksluiting verwys. In die Ou Testament is daar verskeie gevalle waar mense ‘n verbond met mekaar sluit. In 1 Sam 18:3 sluit Jonatan en Dawid ‘n verbond waar liefde die grondslag van die verbond vorm.

Daar is egter ‘n verskil in die wese van ‘n kontrak wat twee mense met mekaar sluit en die wat God met die mens sluit. Dit is nie ‘n kontrak soos tussen twee gelyke partye waar hulle vooraf ooreenkom oor die verantwoordelikhede en verpligtinge van die ooreenkoms nie. Die soort verbond of ooreenkoms word ‘n pariteits-verbond genoem. God sluit nie so ‘n verbond met die mens nie. God se verbond is ‘n eensydige verbond! In gewone taal ‘n testament. Soos die ouer nie nodig het om sy erfgenaam vooraf te raadpleeg oor die inhoud van die testament nie, so het God ook nie nodig om ons vooraf te raadpleeg nie. God kom tot Abraham - voordat hy nog enige verbondskennis het - en beloof om vir hom ‘n God te wees, vaderskap van nasies en Goddelike beskerming en leiding. Abraham het niks gedoen om hierdie verbond te verdien nie. Hy is nie vooraf gekonsulteer rondom die implikasies van die verbond nie. Verder beperk God die bemaking nie net tot Abraham en sy onmiddelike nageslag nie. Dit is ‘n ewige verbond! Liefde en Goddelike genade is aan die grondslag van hierdie ewige verbond. ‘n Verbond van toepassing op Abraham, sy gesin, sy nageslag en al die geslagte en nasies wat uit hom sou voorkom. En wat meer is - aan almal wat kinders van God is - gelowiges volgens Gal. 3:7-29. Daar is nog meer! Ook van toepassing op die nageslag van hulle wat die Here dien! Abraham se geslag is dus nie net beperk tot die Jode nie, maar tot al die nasies wat tot geloof in Jesus Christus sou kom!

Hierdie tipe verbond word die Suzerain-vassal verbond genoem. Dit word vanuit ‘n posisie van outoriteit geinisieer waar sekere beloftes en verbintenisse gemaak word. Hierdie testament vanuit ‘n meerdere aan ‘n mindere het inderdaad sekere vereistes en kondisies. Daarby sal ons later kom.

Dink net aan die implikasies van hierdie verbond! Goddelik persoonlik uitgesoek, buig God Hom tot ‘n nietige mens. Aan daardie mens beloof Hy Sy liefde! Onbegryplik groot is die Skepper wat neerbuig na ‘n gevalle skepsel, vervalle in liggaam en ver op sy dae. Die God wat die onmoontlike doen, laat Hom nie beperk deur die wette van die normale nie. Hy gryp bonatuurlik in en verbind Hom aan ‘n mens en die nageslag van daardie mens tot in ewigheid. Dink net daaraan, dat ek en jy, duisende jare na die verbondsluiting, as gelowiges die vrug van hierdie verbond kan pluk! So ook ons kinders - buite hulle wete, word opgeneem in hierdie heerlike toesegging! Hoe groot is God nie!

Elke ooreenkoms (testament) word gewaarborg met ‘n seël. In die Ou Testamentiese tyd is hierdie verbond beseël met ‘n bloedige teken nl. die besnydenis wat duidelik na Christus verwys het. In die Nuwe Testament is hierdie teken en seël vervang met ‘n nie-bloedige teken nl. water. Water wat in die simbool van reiniging staan.

2. Verbondstoesegging


Ons het reeds gesien dat God aan Abraham ‘n groot nageslag en beskerming beloof het. So het God ook beloof om vir Abraham ‘n God en skild te wees. Die teken hiervan was die bloedige teken van besnydenis wat op die kruis gewys het. In Hand. 2:39 sê die Bybel dat die belofte van Abraham vir hulle (die Jode), hul kinders, en almal daar ver is. Laasgenoemde dui op die wat uit al die nasies die Nuwe Testamentiese volk van die Here sou word nl. die gelowiges uit alle volke, stamme en tale! Abraham is dan nou ook genoem die vader van die gelowiges. Wat word aan hierdie mense (die gelowiges en hulle kinders) bemaak by die doop?


2.1 Doop hulle in die Naam van die Vader:

God beloof - soos vir Abraham- aan die dopeling Sy vaderskap! Dit is dus God se ewige trou en liefde, Sy Vaderskap en alles wat daarmee gepaard gaan, wat aan die mens beloof word. Wat ‘n geskenk! Om te weet Iemand, die grootste, die almagtige, alomteenwoordige, ewige God wil jou Vader wees. Hy wil jou as kind aanvaar.

Deel van Sy Vaderskap is die feit dat die gelowige ‘n erfgenaam van Jesus Christus word - Rom 8:17. Om hierdie belofte na te kom beloof God dat Hy jou na Hom toe sal trek - Joh. 6:44. Wat ‘n heerlike waarheid is dit nie om te weet dat wanneer ons ‘n klein baba ten doop bring, dat God ook aan hierdie kind ten aanhore en aanskoue van elke getuie in die hemel en op aarde beloof dat Hy die kind na Hom sal trek! God beloof ‘n aktiewe betrokkenheid by die dopeling!

God se roepstem neem vele vorme aan. Dit is hier waar ‘n Christelike opvoeding deur die ouers ter sprake kom. Die betrokkenheid van die ouer by die kind se godsdienstige vorming kan nie oorbeklemtoon word nie.

Aan die dopeling wat reeds die Here Jesus as Saligmaker leer ken het, is doop in die Naam van die Vader eweneens ‘n bevestiging van God se Vaderskap en getrouheid. Hy het jou getrek! Hy het jou geroep. Van voor jou geboorte het Hy van jou geweet! Hy het jou gevolg, jou getrek en jou liefgehad nog voor jy dit kon besef. Ja, selfs deur die dae van rebellie en sonde, het Hy jou in Sy tere liefde agtervolg! Om jou te bring op die plek waar Hy jou kon ontmoet in Sy Seun, Jesus Christus. Hy beloof om jou nie te laat staan nie! Hy beloof, soos dit ‘n vader betaam, om jou nooit te verlaat nie! Hy beloof om die werk wat Hy in jou begin het, klaar te maak! God doen nie halwe werk nie!

Wat ‘n bemoediging is dit nie aan gelowige ouers wie se kinders ver van die Here af is nie. Kan ons dan nie op ‘n nuwe manier met die verbond as belofte, met nuwe vuur en ywer vir ons kinders bid nie! “Here, my kind is gedoop! U het beloof om hom/haar te trek sodat U vir hom/haar ‘n Vader en God kan wees! Daarom bid ons met die verbond wat U getrouheid bevestig, dat U hierdie kind sal trek, al kos dit wat! U sal hom/haar red! Halleluja!”

2.2 In die Naam van die Seun

Joh. 6:37 - “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie!” Jesus beloof aan die dopeling Sy aanneming, verlossing, redding en Middelaarskap. Alles wat die Vader aan u kind, uself wil gee, gee Hy in Christus Jesus aan hom! Dink net, Jesus word as Vriend(Joh. 15:14), Leidsman en middelaar (1 Joh 2:1) en Saligmaker beloof! In die Seun word ons vrygespreek van sonde, gereinig deur Sy bloed en versoen met die Vader. In Hom ontvang ons die ewige lewe en word kinders van God. Volgens Efes. 1:3 word ons in Jesus geseën met AL die geestelike seënininge in die Hemele. Hy beloof hoofletter Lewe in Hom! Wat ‘n heerlike verbond!


2.3 In die Naam van die Heilige Gees.

Joh. 14:16 en 26 is hier van toepassing. Die verseëling van die Heilige Gees word aan die dopeling beloof. Sy inwoning, leiding ens. word aan ons beloof! Doop in die Naam van die Heilige Gees beteken dat die Gees nuwe mense van ons wil maak. Dat Hy ons wil oortuig van sonde sodat ons tot inkeer kan kom en Jesus as Saligmaker aanvaar. Die Heilige Gees plant verder geloof in ons harte (Efes. 2:8); stort die liefde van God in ons diepste innerlike (Rom5:5). Hy wil self in ons kom woon volgens Joh. 14:17. Hy wil ons alles kom leer wat Jesus geleer het (Joh 14:26). Daarby wil Hy ons bekragtig om God die Vader te gehoorsaam, Hom te dien en ook die sekerheid dat ons saak met God reg is (Rom8:16).
Wat ‘n wonder! Wat ‘n toesegging! Wat ‘n heerlikheid! Die Vader wat trek, die Seun wat red, die Heilige Gees wat lei! Wat ‘n belofte vir die kind wat ten doop gebring word. Wat ‘n bevestiging vir die volwassene wat na sy bekering ten doop gebring word!

3. Verbondsverpligting


Die vernaamste kenmerk van die Suzerain-vassal verbond is dat daar ‘n defnitiewe verbondsverpligting op die ontvanger van die verbond rus. Die doop stel ook in die lig hiervan sekere eise aan die dopeling, die verantwoordelikes van die dopeling en die gemeenskap van gelowiges.

3.1 Die ouers van die kind wat ten doop gebring word.
God is ‘n God van die gesin. Daarom word kinders by die verbond ingesluit. Vergelyk veral Hand. 11:14 en 16:31. Die verpligting van ouers is dat hulle die kinders in die vrese van die Here sal grootmaak. Dit sluit in ‘n blootstelling aan die evangelie deur leer, lewe en voorbeeld. Voeg daarby die onderrig van die kind in evangeliese waarhede. Kyk na Deut. 6:5-7. Hoe anders sal kinders die waarde van die verbond leer? Die ouer wie sy of haar plig versuim, doen dit onder die oordeel van God! God sal ons kinders se bloed van ons hande eis! Dus, ouer, pasop hoe jy leef! Maak seker dat jou verhouding met God reg is! Maak seker dat jy voor jou kind heilig leef! God hou jou verantwoordelik vir jou kind!

So ook het die verbondsgemeenskap ‘n verantwoordelikheid voor God teenoor die verbondskind in sy midde. Die verbondsgemeenskap of gemeente waarin daardie kind grootword het die verpligting om ten alle tye ‘n voorbeeld van formaat vir daardie kind te wees! Wees versigting - jy is verantwoordelik teenoor God vir die kinders in jou midde!

3.2 Die dopeling

Die volwasse dopeling
Die doop dien as seën en seël van die Verbond. Dit dien dus as bevestiging van God se wonderlike werk aan hierdie mens wat reeds in geloof die Saligmaker, Jesus Christus, in sy lewe ontvang het. Hy het reeds die belofte van die ewige lewe in Jesus Christus aanvaar en met sondebelydenis die vergifnis van Jesus in sy lewe ontvang. Die doop dien hier dan as ‘n simbool van die aflegging van die ou lewe, die opneem van die nuwe lewe in Christus. Dit is die bevestiging van God se getrouheid en die viering van sy geloof in Hom wat nie kan lieg nie! Daarby is dit ‘n vermaning tot ‘n dieper toewyding en heiligmaking.

Slot



Die doop is inderdaad ‘n seen-gevulde handeling met ingrypende gevolge vir die wat dit verstaan en dit prakties implimenteer.

Die verhaal van ‘n bejaarde leraar sal my altyd bybly. Die leraar se seun het hom en sy vrou al hul dae gegee. Hy was ‘n opperste rebel en was gedurig in die moeilikheid en het uiteindelik met die gereg gebots. Kort voor lank het hy in die gevangenis tussen geharde misdadigers beland. Sy vader het hom gereeld kom besoek en telkens aan hom genoem dat hy vir hom bid. Die jongman het hom egter nie daaraan gesteur nie en was meegesleur deur die lewe en kultuur van die tronk. Ten spyte van al die terugslae het sy vader vir hom bly bid. In sy daaglikse smeking voor die Here het hy Hom herinner dat die kind gedoop is. Hy het God herinner aan Sy doopbelofte en verbond. “Here, die kind is gedoop!” het hy dag na dag uitgeskreeu voor God. “U het ‘n verbond met hom. U verklaar in U woord dat U nie kan lieg nie. As doopouer herninner e k U daaraan!” God het sy gebed verhoor. Die seun het kragdadig tot bekering gekom en toe hy sy vryheid kry, het hy kragtige instrument in die hand van die Here geword. Inderdaad ‘n bemoediging.


Sy het verslae voor my gesit. Haar gesig was nat van die trane wat oor haar wange stroom. “My kind is dood.” is al wat sy kon uitkry. Haar kind het, haar eie lewe geneem. Dit is sekerlik die ergste wat enige ouer kan oorkom. Dink net: jy groet hom of haar in die more en vanaand as jy by die huis kom is daar ‘n lyk. Verduidelikings maak nie meer sin nie en mooi woorde ook nie. Sy het my aangekyk met vrae in haar oe. “Waar is my kind?” Die enigste wat in my hart opgespring het was dit: “Jou kind is gedoop. God het ‘n belofte gemaak wat Hy nie gaan verbreek nie. Hy het beloof om haar te trek met Sy liefde. Hy het beloof om haar te red en haar Syne te maak. Hy het beloof om haar te agtervolg en haar te vang as sy val. Al wat ek weet is dat God dit tot die uiterste sal doen. God gee nie op nie, selfs nie wanneer ons opgee nie.”


Die doop van my kinders was besondere geleenthede. Ek het die voorreg gehad om beide van hulle te doop, Matt in Pretoria en Lelanie in Durban. Deurentyd het ‘n doopsgebed vir hulle gehad: “Here, U het ‘n belofte gemaak. U weet hoe feilbaar ek is en hoe dikwels ek faal, maar U het ook belowe om hulle te agtervolg, voor te keer en te red. Waar 다 faal, daar is U sterker. Hulle behoort aan U.” God was nog altyd getrou. God se verbond is sterker as my mislukkings. Soli deo Gloria.

Impressum

Tag der Veröffentlichung: 24.10.2011

Alle Rechte vorbehalten

Nächste Seite
Seite 1 /